
=====================================================================
Streef na onafhanklikheid van politieke gees. (AV 6:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Streef na onafhanklikheid van politieke gees.

  Hermann Giliomee s hoe om eer aan die Boerevegters te gee. DIE Anglo-Boereoorlog se herdenking staan voor die deur. Twee en 'n half jaar 
lank sal ons voortdurend bewus wees van 'n oorlog wat in deurslaggewende mate aan die politieke selfbeeld van die Afrikaners in die 
twintigste eeu beslag gegee het. Die vraag is of die herdenking van die oorlog tot 'n hernude mobilisasie van Afrikaners sal lei pas na die 
oorgang na 'n inklusiewe demokrasie wat die Afrikaners polities gemarginaliseer het.

In stabiele samelewings is die geskiedenis iets wat 'n indiwidu heel pragmaties en funksioneel deel van sy identiteit maak. Historici skryf 
ook vanuit 'n bepaalde hoek, maar oor die algemeen is daar 'n sterk aandrang op objektiwiteit -- dit wil s om die geskiedenis te vertel 
wie es eigentlich gewesen war, soos die groot Duitse historikus Leopold von Ranke dit gestel het.

Dit werk nie so in die geval van gemeenskappe wat getraumatiseer is deur oorlo of politieke stryd met bure binne dieselfde land of aan sy 
grense nie. Ons het dit gesien in Joego-Slawi en Ierland.

In sulke lande werk baie historici lustig mee aan die skep en perpetuering van mites. Mites oor die geskiedenis kan mense so beetpak dat 
dit vreedsame oplossings van politieke geskille onmoontlik maak.

Paul Valry het, gedagtig aan die historiese konflik tussen Frankryk en Duitsland, geskryf: "Die verlede werk met geweld in op die toekoms. 
Die werklike aard van geskiedenis is om 'n rol in die geskiedenis self te speel."

Nou vra 'n mens jou af of dieselfde met die herdenking van die Anglo-Boereoorlog kan gebeur as in die geval van die 1938-herdenking van die 
Groot Trek. Hierdie herdenking het dramaties in die politiek van die dag self ingegryp. Afrikaners het op onverwagte en ongekende wyse 
rondom die gedagte van 'n verenigde en doelgerigte Afrikanervolk begin mobiliseer.

Teen die middel van 1938 was die algemene verwagting dat die herdenking van die Groot Trek 'n stigtelike gebeurtenis sou wees met as 
hoogtepunt die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument. Dit sou 'n staatsgeleentheid wees, bygewoon deur die Goewerneur-generaal, wat 
beteken het dat "God save the King" gespeel sou word.

Vir die leiers van die ATKV was dit net te dik vir 'n daalder en hulle het 'n simboliese ossewatrek gerel om van die fees 'n ware 
Afrikaner-volksfees te maak. Schalk Pienaar het as verslaggewer van Die Burger die trek meegemaak wat op 8 Augustus van Kaapstad vertrek 
het. Hy skryf in 'n opstel wat in sy Getuie van groot tye herdruk is, dat niemand die vaagste benul gehad het van wat te wagte was nie.

Oor die volgende vier-en-'n-half maande het amper 'n massahisterie Afrikaners beetgepak wat die hele herdenking van die Groot Trek in 'n 
nasionalistiese fees omskep het. By omtrent elkeen van die 500 dorpe wat aangedoen is, is die waens met groot geesdrif ontvang. Roerende 
volkstoesprake is gehou, wa-ghries is aan sakdoeke as aandenkings gesmeer, strate is herdoop, kinders is by kampvure gedoop, mans het 
baarde gekweek (selfs dr. Hendrik Verwoerd!) en braaivleis het vir die eerste keer mode onder stedelinge geword. Jare later het iemand aan 
Schalk Pienaar gevra hoe 'n mens die opwelling van nasionalistiese emosie moet verklaar. Sy antwoord was eenvoudig: "Ons was toe so".

Die antwoord is nie heeltemal korrek nie, want op 7 Augustus 1938, die dag voor die waens uit Kaapstad gerol het, sou niemand kon voorspel 
dat die Afrikaners so was nie.

Dieselfde was die geval met die wyse waarop die Anglo-Boeroorlog deur mense as deel van hul geskiedenis beleef is. Dis verstommend dat 
ongeveer 30 jaar lank na die oorlog weinig in die openbaar oor die oorlog ges is. Oudstryders het selde daaroor gepraat. Soos Albert 
Grundlingh onlangs in 'n referaat uitgewys het, is daar tussen 1906 en 1931 slegs nege boeke in Nederlands en Afrikaans gepubliseer wat die 
dagboek of herinneringe van deelnemers bevat.

Politici het nie daaruit politieke munt probeer slaan nie. Die algemene houding is deur genl. Jan Smuts verwoord toe hy in 1929 in die 
voorwoord van Deneys Reitz se Commando die boek se visie aangeprys het. Dit was die visie van "'n verenigde (blanke) Suid-Afrikaanse volk 
vir wie die herinneringe aan die Boereoorlog nie langer 'n gevoel van bitterheid oproep nie, maar die rypheid en inspirasie van 'n 
geestelike ervaring".

In die loop van die dertigerjare het die situasie radikaal verander. Die Huisgenoot en ander tydskrifte het 'n stroom van verhale 
gepubliseer. Die een boek na die ander het gevolg. Vroeg in 1938 verskyn Sarah Raal se herinneringe Met die Boere in die veld in boekvorm. 
Die manuskrip het jare lank in die laai van 'n lessenaar gel en dele daarvan is vir die eerste keer eers in laat-1936 in Die Burger 
gepubliseer.

'n Sinnetjie in die boek het 'n storm veroorsaak. Dit het gegaan oor die behandeling in die konsentrasiekampe en het soos volg gelui: "Hier 
word fyngemaalde glas en vitrioel in die suiker gegooi". Toevallig het die Cape Argus die boek op dieselfde dag "ontdek" as waarop die 
verrigtinge in verband met die simboliese ossewatrek in Kaapstad begin het. 'n Leser van die koerant het die volgende ges: "[It is] one of 
the vilest books I have ever read. From cover to cover it vilifies the British in the most outrageous fashion and attributes to them all 
sorts of crimes and atrocities".

Die polemiek, wat treffend deur Jaap Steyn in sy Trouwe Afrikaners beskryf word, het daartoe bygedra dat die boek baie goed verkoop is. Die 
storie oor die blouvitrioel was nog lewendig in die jare vyftig toe ek op hor skool was. Ek onthou 'n vurige argument daaroor in 1952 of 
1953 tussen my vader, wat 'n geskiedenisonderwyser was, en Jack Basson, 'n Verenigde Party-politikus.

Teen die vroe jare sestig het die intense publieke belangstelling in die Boereoorlog egter grootliks gekwyn, selfs ook oor beweerde 
menseregteskendings. Die historiese "feite" het nie verander nie, maar wel die Afrikaners se politieke behoeftes. Die hulp van die 
Engelssprekendes het dringend noodsaaklik geraak in die oplaaiende swart stryd teen blanke oorheersing.

Na 1960 se volkstemming oor die Republiek het dr. Verwoerd verklaar die twiste tussen die twee blanke seksies behoort tot die verlede: 
"Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes het geword soos die bruid en bruidegom wat die nuwe lewe saam binnegaan in liefde om saam te skep 
en saam te lewe as lewensmaats."

Gaan ons in die volgende 21-22 jaar 'n opwelling van nasionalistiese gevoelens rondom die Anglo-Boereoorlog kry? Ek glo nie so nie.

Die opwelling van die jare dertig het gespruit uit 'n intense gevoel van minderwaardigheid, slagofferskap en martelaarskap aan die kant van 
die Afrikaners. Omtrent 'n kwart van hulle is as armblankes gedefinieer. Van di wat wel werk gehad het, was die meerderheid swak geskoold. 
Die Afrikaanse taal en kultuur het nog in kinderskoene gestaan.

Afrikaner nasionaliste het die Britse Ryk, die Engels-beheerde kapitalistiese ekonomie en imperialistiese Engelssprekendes as die bron van 
hul gevoel van minderwaardigheid gedentifiseer. Die Nasionale Party wou die gevoel van magteloosheid omkeer. "Raak ontslae van die 
minderwaardigheid teenoor ander en teenoor ons voorouers en Voortrekkers," het dr. D.F. Malan uitgeroep, en bygevoeg: "Glo in u God, glo in 
u volk, glo in uself."

Die politieke toneel van vandag is radikaal anders. Die Afrikaners van 1999 is oorwegend 'n middestand en werkloosheid onder hulle loop nog 
in enkelsyfers. Hulle het nie meer 'n gevoel van minderwaardigheid teenoor Engelssprekendes nie. Hulle politieke selfbeeld is nie meer di 
van slagoffers nie.

Hulle ervaar saam met blanke Engelssprekendes die woeste onstuimighede en bittere onsekerhede en wisselvallighede van die nuwe Suid-Afrika. 
Ewe veel Afrikaners as Engelssprekendes stem vir die Demokratiese Party. Dit maak bitter min sin om nou weer Boereoorlog-koeie uit die 
sloot te haal.

Geskiedenis bepaal nie die politiek nie, maar eerder die politiek die geskiedenis. Dit is nie selfingenome waarheidskommissies wat 'n 
bepaalde tydvak of gebeure afsluit deur daaroor "konsensus" te bereik nie. Dit is die mense self wat polities ryp genoeg raak om vir hulle 
'n beeld van die verlede te soek waarmee hulle met hulself en hul bure kan saamleef. Vir Afrikaners l die betekenis van die oorlog nie in 
die menseregtegruwels nie, maar in die heldemoed om teen 'n oormag vir politieke onafhanklikheid te stry.

Die heroese stryd van die Bittereinders is selfs vandag nog 'n inspirasie om nie polities dienstig teenoor die heersers van die dag te 
wees en tot maklike kompromie en "deals" verlei te word nie.

Selfbeskikking begin by 'n onafhanklikheid van politieke gees en 'n beginselvaste gewete. Deur dit na te streef, eer ons die stryd van ons 
Boerevegters. Prof. Hermann Giliomee is politieke wetenskaplike en historikus.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av631.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Oktober 1999 /// Streef na onafhanklikheid van politieke gees. (AV 6:3) 
/// Troukoors (AV 6:3) /// Afrikaans bring die Woord aan Kung-praters (AV 6:3) /// Brief uit Murraysburg (AV 6:3) /// Ode aan my 
leermeesteres (AV 6:3) /// Suksesse met onderwysprojekte (AV 6:3) /// Afrikaansdag treffer by Vista (AV 6:3) /// Nuwe woorde uit anderhalwe 
dekade (AV 6:3) /// Rekenaar help Afrikaansleerders (AV 6:3) /// 'Wat ek wil s, kan in Afrikaans ges word' (AV 6:3) /// 'n Omstrede 
veteraan bieg (AV 6:3) /// Vaardig met tong en hand (AV 6:3) /// Dit kook en prut in die taalpot (AV 6:3) /// Johan Combrink was 'n 
DOENmens (AV 6:3) /// Gevangene (AV 6:3) /// George doen ding vir Afrikaanse reklame (AV 6:3) /// Leeslus het losgekom -- Internet gee 
koopnuus (AV 6:3) /// Gee swaarkry van Oorlog nuwe sin (AV 6:3) /// 'O moedertaal ... jou het ek lief bo alles ...' (AV 6:3) /// Waardeer 
mekaar se verdienstes (AV 6:3) /// Kalklig-dief (AV 6:3) /// IiLwimi wil taalregte en veeltaligheid uitbou (AV 6:3) /// Wenners munt uit 
met raaks-Afrikaans (AV 6:3) /// Baksel in die winter (AV 6:3) ///

